Desensitering

WAT WORD BEDOEL MET ‘N GE-DESENSITEERDE PERD

Desensitisering is ‘n baie breë term en word deur verskillende mense op verskillende maniere vertolk.

Vir die meeste mense beteken desensitisering bloot wanneer ‘n perd ‘n ruiter en ‘n normale omgewing aanvaar sonder om te skrik of verbouereerd te raak.

Maar wat as die “gedesentiseerde” perd onverwags homself in ‘n situasie bevind wat nie in sy gemaksone is nie, en ‘n agt jaat oue dogtertjie is op sy rug? Wat as ‘n skielike geraas of ‘n klappende seil op die toneel verskyn?

As ek ‘n gedesensitiseerde perd in die kortste moontlike manier moet beskryf, sal ek ‘n oorlogperd as voorbeeld neem. GEEN geraas en GEEN skielike vreemde voorwerp sal ‘n oorlogperd ontstel nie. “Skielike” geraas en “onverwagse” vreemde voorwerpe is die norm vir ‘n oorlogperd.

Dus, wat is die geheim van die oorlogperd? Hoe het hulle so geword, en hoekom het hulle so geword?

Die antwoord kan gevind word deur eerstens EEN feit te besef: GEEN perd kan vir ure aaneen skrik nie – nie vir geraas, of vir vreemde, skrikwekkende voorwerpe wat hy sien, of as iets aan hom raak nie. Wat oorlogperde maak is die aanhoudende BLOOTSTELLING aan UITERSTE voorwerpe en klanke. Dink daaraan: as ‘n perd om 6 v.m. aan UITERSTE voorwerpe en klanke blootgestel word, en daardie voorwerpe en klanke hou nie op na 9 v.m. nie, is daardie perd nog steeds in staat om om 9 v.m. te skrik?

In my kinderdae het ek ‘n afgetrede poeliesman geken wie minder as honderd tree van ‘n baie besige spoorlyn gewoon het. In sy agterplaas was sy stal – behalwe vir ‘n betonkrip, wat baie stewig was en waaraan hy sy perd vasgemaak het (outydse manier) met ‘n baie sterk halter, was sy stal geheel en al van sink gemaak. Hy het altyd sy perd “geleer” en dit verkoop wanneer hy “geleer” is, om weer ‘n nuwe (altyd baie mooi) jong plaasvervanger in te bring. 

Mnr. Meyer het sy tyd fyn bereken om sy perd aan die krip vas te maak wanneer die treine hom ‘n kans gee (wat fyn berekening gekos het), die deur toegemaak en gesorg dat hy uit die stal, wat net groot genoeg was sodat die perd gemaklik kon staan en lê, kom, voor die volgende trein kom. Die stal was omtrent vyf tree van hierdie baie besige treinspoor!!! (Dit is werklik so).

Wanneer daardie eerste trein verbygaan, was die duiwel los in daardie stal (Mnr. Meyer se halters en halterrieme was STERK). Na ‘n paar lang treine het die perd dit begin aanvaar en dit nie meer opgelet nie. Na ‘n paar ure was dit verby – vir altyd!!! Dit is vanselfsprekend dat mnr. Meyer se perde betroubaar, bomproef en in aanvraag was – en dat hulle nooit ‘n kind seergemaak het nie. Laat ek my haas om by te voeg dat mnr. Meyer se stal, hoewel nie “grand” nie, veilig vir sy perd was.

Ek glo vas daaraan om mooi te werk as ‘n perd afgerig word, en my metodes is nie wreed nie, maar om ‘n perd net te “baby-talk” produseer ongelukkig nie die mees betroubare perd nie – in die meeste gevalle veroorsaak dit onhanteerbare probleme, aangesien die meeste perde jou sal oorheers as jy te sag is. Laat ek my haas om by te voeg dat ek geensins bedoel dat jy ‘n waaghals gesindheid moet hê nie. Wees versigtig, veral wanneer jy met waardevolle perde werk. ‘n Besering aan ‘n waardevolle perd mag jou ‘n paar honderd duisend kos in enige geldeenheid. Wanneer jy ‘n perd desensitiseer moet jy seker maak dat jy dit in ‘n plek sit waar hy nie homself kan seermaak nie. Begin maar ‘n bietjie stadig, maar die meeste van die tyd het my ondervinding my geleer dat die makste perde die perde is wat die meeste gespook het.

Nadat ek seker gemaak het dat die perd nie vir homself of vir my kan seermaak nie, stel ek hom bloot aan soveel skrikwekkende geraas en voorwerpe as moontlik. Natuurlik spook hy homself uit vir 20 minute, waartydens ek nie ophou nie, en daarna begin hy minder en minder omgee. Na 30 minute ontstel geen geraas, ongeag hoe skrikwekkend of hard dit ookal is, geen “onverwagse” voorwerp wat skielik na hom toe aankom, soos ‘n baadjie wat skielik en onverwags na hom gegooi word (terwyl ek die een mou vashou), of as ek maak asof ek iets na die perd toe gaan gooi, hom meer nie. Dit is nou ‘n bomproef perd vir geraas, ‘n skrikaanjaende voorwerp, of aanraking aan enige deel van sy lyf – sy pens, lies, kop, boude en dye.

Dit is wanneer ek ‘n perd gedesensitiseer noem. Dit is wanneer ‘n perd veilig is vir ‘n kind, leek of onervare ruiter.

ORDER NOW 2