Dissipline – wat beteken dit in perde afrigting

DISSIPLINE: WAT BETEKEN DIT IN PERDE-AFRIGTING?

Daar is ‘n (baie sterk) parallel tussen perde-afrigting en die opvoeding van kinders – die benadering is PRESIES dieselfde.

Ek het gedurende die afgelope tyd die (baie onaangename) ondervinding gehad om met ‘n paar bombastiese, verwaande mense betrokke te wees. Hierdie mense het ‘n paar eienskappe in gemeen:

  1. Hulle stoomroller hul pad oor mense.
  2. Hulle luister nie na ander mense se mening nie, daarom leer hulle NIKS by ander mense nie.
  3. Hul het GEEN vermoë om vir enigiemand iets te verduidelik nie, omdat hulle as gevolg van hul verwaandheid nie seker maak dat die ander person verstaan wat hulle prober verduidelik nie.. Hoe gou sal hulle leer om ‘n vliegtuig te loods as hulle slegs vir drie minute geleer word?
  4. Mense in hierdie groep is normaalweg nie baie intelligent nie, want intelligente mense besef altyd dat hulle baie by ander mense kan leer deur te LUISTER (of deur gedragspatrone by perde te bestudeer). (Dit en ‘n groot mond gaan nie saam nie).

Verskoon asseblief ‘n bietjie persoonlike mening hier, maar, sonder om iets te sê, sê ek altyd vir myself: “Jou DWAAS, jou PATETISE IDIOOT” wanneer ek so iemand teëkom.

Wanneer ons ‘n perd (of  kind) dissiplineer, is dit noodsaaklik om fyn waarnemingsvermoë te hê en ‘n goeie ontleder van ‘n perd te wees. In 90% plus van die gevalle tree perde onwenslik op omdat hulle nie verstaan wat van hulle verwag word nie.

Die eerste stap moet natuurlik wees om (KALM) aan die perd te verduidelik wat jy van hom verlang. Aangesien jy nie met ‘n perd kan kommunikeer op dieselfde manier as wat jy met mense kommunikeer nie, behoort die afrigter baie tyd te bestee om aan die perd sy wense bekend te maak deur sekere tekens konsekwent toe te pas. Hoeveel perde word nie gestraf net omdat hulle nie weet wat die afrigter verlang nie? In sulke gevalle is die afrigter die een wie die straf verdien, want hy het nie SY werk doeltreffend en deeglik gedoen nie.

Dissipline moet NOOIT met verniel of straf verwar word nie, maar eerder met ferm en konsekwente optrede, om sodoende aan die perd te wys wat wenslik is.

Eerstens: wees KALM en STIL. Neem ‘n ferm standpunt in, en waar moontlik, staan stil. Het jy al ooit opgelet hoedat die (verstandige, intelligente) ouers van gedissiplineerde kinders nooit ‘n lawaai maak of tekere gaan nie?   

Hierdie ouers het BEGIN deur baie DEEGLIK aan die kind te verduidelik wat van hom verwag word, en dan seker gemaak dat die kind goed verstaan, dan het hulle ‘n FERM standpunt ingeneem voordat hulle straf toegedien het. Oulike, intelligente mense het normaalweg so ‘n sterk persoonlikheid dat dit nie vir hulle nodig is  om te skree of om ‘n klomp stof op te skop om hulself te laat geld nie, maar hulle maak seker dat hulle opgemerk word, met gesag.

Die maklikste voorbeeld om te gebruik om die beginsel van dissipline te verduidelik, is om ‘n oorhaastige perd te gebruik as voorbeeld – die ongeduldige soort wat nie wil stilstaan of sy spoed beheer nie.

As voorbeeld kan ons ‘n perd gebruik wat nie wil stilstaan as jy wil opklim nie en moeilik is om in te span, en wat altyd  vinniger wil gaan – die ongeduldige tipe wat altyd al vinniger wil gaan.

Lang leisels is baie handig om baie van jou afrigtingsprosesse te begin.

Neem die oorhaastige perd in ‘n ronde kraal ( indien dit beskikbaar is). Die perd wil aanloop sodra die leisels losgemaak word, of sodra hy opgeklim word of wanneer die kar gehak word.

Maak die leisels los en …………………..STAAN. Vyf minute, tien minute, ‘n uur. Wees STIL en KALM, ONTSPANNE, maar FERM en KONSEKWENT. As die perd te opgewonde raak en dit lyk asof hy dalk mag agteroorslaan, kan jy hom toelaat om ‘n bietjie links of regs te beweeg, maar nooit verder as die lengte van die leisels nie. Aanvanklik mag dit help om ‘n helper te hê wie die perd se nek, kop, ore en oë vryf om te help om die perd te kalmeer. As jy moet praat, doen dit sag en kalmerend.

Sodra jy jou doel bereik het kan jy die perd toelaat om ‘n paar tree vorentoe te gee. Stop weer, en staan weer, ‘n paar tree, staan, ‘n paar tree, staan. In so ‘n situasie help dit baie as die perd geleer is om ‘n paar tree agtertoe te gee (backing). Staan, ‘n paar tree, stop, staan vir ‘n paar sekondes of ‘n paar minute, totdat die ergste onstuimigheid afgekoel het, “back” ‘n paar tree, een of twee treë vorentoe, en staan. Hou hiermee aan vir soveel as ‘n uur indien nodig, en vir soveel dae as wat nodig mag wees. Let op dat JY die pas bepaal en JY neem die besluit. JY is in beheer.  

Afhangende van jou vordering kan jy begin om die perd om die ronde kraal (bull pen) te laat loop. Sodra hy te vinnig gaan draai jy hom ONMIDDELIK om, maar bly steeds KALM EN (BAIE) FERM. Sorg dat jou bewegings glad en vloeiend is, kalm en FERM. Geen lawaai, geen STOF OPSKOP. Aaanvanklik mag dit nodig wees om na een of twee treë te draai, baie kere, maar jy sal verstom wees hoe gou die perd die gedagte snap. 

Geleidelik kan jy die afstand verleng tot vyf of ses tree, tien tree, halfpad om die ring, totdat die perd homself kan beheer OP ‘N LOS LEISEL SONDER DAT JY AAN DIE LEISELS HOEF TE TREK.

Hierna kan jy ‘n drafstappie toelaat. SODRA die perd te vinnig wil gaan draai jy om en begin van voor af totdat hy op een spoed sal bly sonder dat jy hom teëhou.

Sodra jy die perd onder beheer het in die ronde kraal, is jou volgende stap om die proses buite te herhaal.

Wanneer jy die oorhaastige perd opklim of inspan word presies dieselfde proses gevolg.

Wanneer jy gereed maak om op te klim staan jy terug sodra die perd wil begin loop. ‘n Baie oorhaastige perd sal begin loop reeds wanneer jy jou teuels optel, dus moet jy die teuels skietgee sodra dit gebeur, en begin van voor af. In ernstige gevalle mag dit nodig wees om vir ‘n heel paar dae hiermee aan te hou, en niks meer te doen as om die teuels op te tel en skiet te gee nie, totdat die perd sal aanneem dat al wat hy gaan doen is om stilte staan sodat jy jou teuels kan optel en skietgee !!!!!!!!!!!!!!

Dieselfde benadering word gevolg wanneer jy jou voet in die stibeuel sit, terugstaan, of selfs net die stibeuel optel met joun regterhand, en staan weer terug. Met elke volgende stap mag die probleem himself  herhaal, maar jy sal vind dat jou vordering al vinniger sal wees, MITS JY DIE EERSTE STAP GEDULDIG, FERM, KALM, KONSEKWENT EN DEEGLIK GEDOEN HET.

Sodra jy die stadium bereik waar jy in die saal kan sit ( in ernstige gevalle mag dit ‘n week of selfs ‘n paar weke neem), kan jy net op – en afklim, sit in die saal vir ‘n rukkie, maar sonder om vorentoe te gaan.

Wanneer jy begin stap herhaal jy die proses wat jy in die lang leisels gedoen het.

Dieselfde beginsel en metode word toegepas om die oorhaastige perd in te span. Afhangend van watter stadium die perd ongeduldig raak, stop jy, gaan terug en begin van voor af, totdat die perd stilstaan wanneer hy ingespan word, sonder dat jy die leisels of teuels hoef vas te hou. ‘n Gedissiplineerde perd behoort homself te beheer sonder om vasgehou te word.

Dit is ‘n voorbeeld van hoe om ‘n perd te dissiplineer sonder verniel of straf. Geen lawaai, geen stof opskop, geen vertoning. Net kalm, ferm, en op ‘n berekende manier. PERDE-AFRIGTING GAAN PRIMÊR OOR VERTROUE EN DISSIPLINE.

As jy net dit in hierdie hele boek geleer het, is hierdie boek sy prys honderd of duisendvoudig werd.