HOEFSLAGFEES WORD AL GEWILDER
Weens ‘n toename in die gewildheid van die jaarlikse Hoefslagfees en ‘n toename in toeskouergetalle, het die organiseerders besluit om dit in die toekoms oor twee dae, pleks van een, te laat strek.
Hierdie fees op Geyerspan, tussen Koster en Lichtenburg, het vanjaar ‘n rekordgetal van 4 500 mense gelok. Dit sal volgende jaar vir die tiende keer gehou word.
Die hoofdoel van die geleentheid is perderas- en –stoetpromosie en op die komende feeste sal daarop voortgebou word,” sê die eienaar van Geyerspan, mnr. Piet Botha.
Weens die venue se ligging en die publiek se groterwordende behoefte aan oornaggeriewe, word ‘n “vyfster-karavaanpark” vir toekomstige feeste op die plaas in die vooruitsig gestel.
Die fratsongeluk op vanjaar se fees waarin ‘n rodeomerrie se been gebreek en sy deur ‘n amptenaar van die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) buite die arena van kant gemaak is, is deur die organiseerders van die fees as “hartseer” beskryf. “Dit is slegs die eerste keer in sestien jaar dat ‘n perd tydens ‘n rodeo in ons land sodanig beseer is. Sulke beserings kom wel internasionaal in feitlik alle perdesportsoorte voor.”
In die lig van hierdie voorval, het die organiseerders besluit dat indien hulle weer rodeos op toekomstige feeste op die terrein sal toelaat, dit slegs uit bulrykompetisies sal bestaan.
Die Noordwes-rodeokampioenskappe is tydens vanjaar se fees gehou met RodeoSA as die organiseerder. Die nasionale kampioen in die blootsry van perde, Burger Snyman van Lydenburg, het hierdie item gewen. Hector Beukes van Donkerhoek was die beste bulryer.
Van die ruiters uit Noordwes wat teen die land se bestes deelgeneem het, het ‘n jong ruiter van Geyerspan, Rynhardt van Zyl, die beste gevaar en die ongewone vermag. Met slegs sy tweede deelname aan ‘n byeenkoms van RodeoSA, bevind hy hom nou onder die Top Tien voorste ruiters in die land.
Die fees is weereens gekenmerk deur skouspelagtige perdevertonings met perde en ponies van verskeie rasse. Elegante gitswart Friesperde tot Hackneyponies en klein Miniatuurperde was te sien.
Die vertonings deur inheemse rasse soos die Nooitgedachter en SA Boerperde was uiters gewild by die publiek, terwyl die 450 Friesperde en Frieskruisings van Geyerspan wat saam in die arena verskyn het en items met ruiters in kleurvolle kostuums, onvergeetlike gebeurtenisse was.
Armand van der Merwe van Rustenburg het as ‘n Singende Ruiter net die nodige tmosfeer geskep vir die rodeo wat kort hierná gevolg het.
Nog ‘n hoogtepunt was die verering van ‘n aantal pioniers wat op verskeie gebiede baanbrekerswerk verrig het. Een van hulle is die 83-jarige mnr. Johan Basson van Potgietersrus wat met sy familie oor baie dekades ‘n groot rol in die veredeling van die Afrikanerbeesras gespeel het. Hy beywer hom steeds vir die produksie van die beste gehalte vleis vir die verbruiker.
Die bekende baanbreker en uitblinker in die perde-dryfkunssport, mnr. Rodney Forster van Johannesburg, en mnr. Kallie du Preez van Parys,.is ook vereer. Du Preez was ‘n bekende op die gebied van wildbewaring en die jag van terroriste in die gewese Suidwes-Afrika.
By dié geleenheid is ook hulde gebring aan drie Springbokrugbyspelers van weleer, nl. Frik du Preez, Joggie Jansen en Thys Lourens. Frik en Joggie is ook bekendes in perdekringe. Eersgenoemde was van die stigters van die jaarlikse Bray July -perderesies, terwyl Joggie reeds aan talle perde-uithouritkompetisies deelgeneem het.
FRIESHINGS BEHAAL R1,000,000
Die hoogste prys ooit vir ‘n Friesperd op ‘n plaaslike veiling is op ‘n elite-perdeveiling op die Hoefslagfees te Geyerspan behaal. ‘n Ingevoerde hings vanuit die bekende stoet op hierdie plaas, buite Koster, is vir ‘n miljoen rand verkoop.
Hierdie hings, Auke V, wat pas drie jaar oud geword het, is onlangs deur Geyerspan se eienaar, mnr. Piet Botha, uit Nederland ingevoer. Die perd se nuwe eienaar is mnr. Niekie Pienaar van die ewe bekende Adelpragstoet, buite Potchefstroom.
Botha, wie oor die afgelope twee dekades reeds meer as veertig perde ingevoer het, meen dat Auke V die mees besondere hings is wat hy nog die land ingebring het. Toe hy hom in Nederland vir die eerste keer op die ouderdom van ongeveer vier maande gesien het, het dié jong vul hom reeds beïndruk. “Dit is ‘n lyngeteelde perd en sy voor- en agteraksie is net nêrens in die land te vinde. Boonop het hy die wonderlikste temperament en geaardheid,” sê Botha.
Auke V, wie se pa Harmen 424 en sy ma Lea Nadine V is, is geteel in die stoet van G.A. Vergossen van Koningsbosch in Nederland.
Saam met Auke V het Botha nog ‘n uitstekende hings die land ingebring, nl Arnt, wat ‘n volbroer is van die vorige en huidige nasionale grootkampioenhingste van die Fiesperdtelersgenootskap van SA. Beide hierdie hingste, wat ook deur Botha ingevoer is – N Teun en Teun T – is lank reeds in die stalle van die Adelpragstoet.
Op die veiling op Geyerspan, wat voor duisende mense gehou is, het mnr. Willem van Aardt R60 000 vir ‘n Frieshings ontvang, terwyl die Asad Arabierstoet ‘n hings en merrie vir onderskeidelik R12 000 en R9 000 verkoop het.
Die afslaer was mnr. Hendrik Nel van Clive Gardner Afslaers van Potchefstroom.
● Kort ná die veiling het mnr. Botha ook vir die eerste keer ‘n Norikermerrie, wat hy uit Oostenryk ingevoer het, uit die hand aan mnr. Lukas van der Merwe van Randjiesfontein verkoop. Met hierdie transaksie het mnr. Van der Merwe slegs die derde eienaar van ‘n perd van hierdie medium-swaar trekperdras in die land geword. Hy het R120 000 vir die vier jaar oue merrie, Paula, en haar eerste aankomelingvul betaal.