PERDE TANDHEELKUNDE
deur
BENNIE WALDEN
IN DIE BEGIN
My liefde vir perde het op ‘n baie jong ouderdom begin, en terwyl ek met hierdie besondere diere grootgeword het, het ek altyd in my verbeelding gesien hoedat ek eendag met perde sou werk. Ek kon egter nie besluit wat ek wou doen nie.
Dit is hoe my storie begin.
Namate ek ouer geword het en meer aan skoue deelgeneem het, het ek opgemerk hoedat party perde ernstige bekprobleme gehad het (bedoelende enige probleem wat te doen het met die perd se bek en die bekgoed – stang of trens) wat afrigters blykbaar nie kon oplos deur stange en trense te verander en afrigtingsmetodes aan pas nie.
Dit is slegs toe my eie kompetisieperd tekens van ‘n bekprobleem begin toon het, dat ek besef het watter frustrasie mede deelnemers en perdemense moes verduur deur soortgelyke probleme te ondervind.
My perd se bekprobleme het sy kondisie en vertoning begin beïnvloed. Gelukkig het ek eendag op ‘n skou ‘n dame ontmoet wie my probleem opgemerk het. Sy het haarself bekendgestel as ‘n perde tandarts (EqDT) en gevra of sy na my perd se tande mag kyk.
Aanvanklik was ek skepties, aangesien ek nog nooit sy bekprobleem met sy tande verbind het nie, en boonop het ek nog nooit van ‘n perdetandarts gehoor nie, maar ek het geweet ek moes my perd help en dus was ek bereid om iets nuuts te probeer.
Nadat sy sy bek met haar spekulum oopgemaak het, het sy die probleem geïdentifiseer. ‘n Groot oorgroeide haaktand (caudal hook) het deur sy tandvleis gegroei, en dit was vreeslik pynlik, wat veroorsaak het dat dit vir hom moeilik was om die stang en trens te aanvaar. Ek het onmiddelik ‘n afspraak gereël, en ek was verstom met die eindresultaat.
Kort nadat sy tande gevyl was, en die haaktand gevyl was tot sy normale grootte, was die verbetering in my perd ongelooflik. Drie maande later het hy geen teken van ‘n vorige bekprobleem getoon nie en het hy sy gewig begin herwin in so ‘n mate dat ek sy voer kon halveer binne die volgende ses maande.
Na hierdie ondervinding het ek besef hoe belangrik dit vir perde-eienaars is om gereelde tandheelkundige afsprake te skeduleer vir hul perde van jongs af, aangesien so ‘n tandheelkundige ondersoek bogemelde probleem sou identifiseer en oplos voordat dit ernstig geword het.
Dit het ook duidelik geword dat daar ‘n groot behoefte aan Perde Tandheelkundiges in die land bestaan het, aangesien baie perde professionele hulp benodig het.
Uiteindelik het ek geweet wat ek wou doen: “Ek wou ‘n Perde Tandheelkundige word”.
Dit was geen maklike taak nie, aangesien daar geen formele opleiding vir hierdie gespesialiseerde beroep in Suid Afrika is nie. Ek moes oorsee studeer, en op daardie stadium kon ek dit nie bekostig nie. Nadat ek jare lank as stoetbestuurder gewerk het, het ek genoeg fondse gehad om aan “The American School of Equine Dentistry” in Florida, V.S.A. te studeer. Nadat ek in 2007 gegradueer het, het ek uiteindelik my lewensdroom vervul en my loopbaan as Perde Tandheelkundige begin.
Om ‘n beter begrip te hê van jou perd se bek en omliggende strukture, sal ek ‘n kort beskrywing van ‘n perd se tandheelkundige anatomie en tandvorming gee, gevolg deur ‘n kort beskrywing van die mees algemene simptome, wat u as perde eienaar kan help om ‘n tandheelkundige probleem te identifiseer.
DIT IS WAAR ALLES BEGIN
‘n Vul word met twaalf voorkiestande gebore, drie op elke arkade (arkade beteken ‘n ry tande). Hulle het ook vier sentrale snytande, een op elke arkade (let op dat sommige vullens sonder snytande gebore word, en dat dit slegs na ‘n paar dae na geboorte te voorskyn kom).
Na ses weke sal nog vier agterste snytande te voorskyn kom, en ses maande na geboorte sal vier hoektande te voorskyn kom.
Let op dat al die bogemelde tande melktande is.
Voor vyfjarige ouderdom sal die perd vier en twintig melktande hê, wat almal op 2½ jarige ouderdom begin wissel. Al die melktande behoort op vyf jarige ouderdom gewissel te wees. Terselfdertyd sal twaalf ekstra permanente kiestande te voorskyn kom.
Bo: Skets met die anatomie van ‘n hings/reun se tande
Vanaf vyf jarige ouderdom, sal die volwasse hings of reun veertig tot twee en veertig permanente tande hê, afhangende of die perd wolftande het.
Merries het gewoonlik slegs ses en dertig tot ag en dertig tande, wat weereens afhang of hulle wolftande kry. Dit is interessant om daarop te let dat sommige merries klein oogtande kan hê wat onder die tandvleis verborge is. Dit is egter baie seldsaam.
PERMANENTE TANDE SLUIT DIE VOLGENDE IN:
Ses snytande om gras, blare ens. mee te sny. Vier haaktande, wat voorkom tussen vier en vyf jaar, word gevind by hingste en reuns. Hierdie haaktande word gebruik om die kudde te beskerm.
Soms word twee wolftande net voor die boonste voorste hoektande gevind. Dit word vermoed dat hierdie tande oorblyfsels is van die evolusie van die perd en dat hulle vandag geen doel dien nie.
Verder na agter vind ons die hoektande, wat bestaan uit twaalf voorste hoektande, drie op elke arkade. Agter hulle vind ons twaalf maaltande, ook drie op elke arkade. Hulle doel is om voergedeeltes fyn te maal om al die waardevolle voedselbestanddele vry te stel.
Hoekom is tandheelkundige ondersoeke belangrik vir jou perd?
Perde wei die grootste gedeelte van die dag, en dit veroorsaak stresvolle slytasie op die tande, dus groei ‘n perd se tande gedurig gedurende sy leeftyd, om sodoende tred te hou met elke dag se maal. Die tande van ‘n jong perd groei teen ‘n baie vinniger tempo (voor vyftien jarige ouderdom groei dit +- drie mm. per jaar), en die groei neem geleidelik af namate die perd ouer word (na vyftien jarige ouderdom is daar slegs ‘n groei van +- een mm. per jaar). Sommige baie ou perde (twintig jaar plus) se totaal reserwe kroon (reserwe tand onder die tandvleis), het klaar volledig uitgekom, daarom sal die tand uitval.
In die natuur sal die wilde perd se tande hulself handhaaf teen ‘n konstante grootte en skerpheid, as gevolg van ‘n groot verskeidenheid growwe voer. Met die makmaak van wilde perde het ons hulle begin sagter en meer smaaklike voer voer, tesame met korter weiperiodes, en daardeur het ons ‘n reeks tandheelkundige probleme ontwikkel.
DIE MEES ALGEMENE PROBLEME WAT BY PERDE GEVIND WORD
Let asseblief op: nie alle tandheelkundige probleme wat hieronder gelys word kom voor as gevolg van die makmaak van perde nie.
- Skerp emalje kante. Dit is die mees algemene probleem wat by makgemaakte perde gevind word. Die binne-of buitekante van die hoektande slyt nie behoorlik af nie, as gevolg van die kou van sagte voer, wat skerp emalje kante veroorsaak. Dit word gevind op die boonste hoektande en aan die binnekant van die onderste hoektande, en dit mag sere veroorsaak wat kan lei tot infeksie, absesse ens.. Dit word gewoonlik verhoed deur die tande elke ses maande te vyl.
- Snawelvormige en “caudal” haaktande. Dit kan veroorsaak word deur die onnatuurlike bouvorm (bv. lang onderkaak), of as gevolg van ‘n abnormale vreetposisie (bv. ‘n te hoë hooinet). Hierdie probleem kan voorkom word deur die haaktande te vyl tot hul normale grootte en deur middel van meganies aangedrewe of handgedrewe vyle, afhangende van die erns van die tand.
OORGROEIDE MAALTANDE: wavemouth (golwend), stepmouth, ramp (hellend), wedge (wigvormig), diastema
Hierdie is die mees algemeen by ouer perde (twintig +) as gevolg van hoektande wat digtheid verloor. Hierdie tande kan breek, slyt of totaal deurbreek omdat daar geen reserwe kroon is nie. Dit sal tot gevolg hê dat die teenoorgestelde tand gedurig uitbreek, aangesien dit geen teenoorgestelde tandoppervlakte het om teen af te skuur nie, wat uiteindelik daartoe lei dat die tand die sagte weefsel en omliggende weefsel binnedring en erge pyn veroorsaak. Dit sal ook verhinder dat die kakebeen vrylik van kant tot kant kan beweeg, wat vreet bemoeilik en vertering verlaag. Deur sulke oorgroeide tande gelyk te vyl en die bek te balanseer, sal dit die perd in staat stel om voort te gaan om te wei sonder enige ongerief.
- Wolftand sensitiwiteit. Wolftande is klein voorste maaltande wat gewoonlik voor op die bo-kaak verskyn, net voor die tweede voorste kiestande. Hulle varieer in grootte en kan so klein as vyf mm. in lengte wees. Weens die feit dat wolftande ‘n klein wortelstelsel het, raak die tand los en knyp die senuweepunte naby die wortel terwyl die perd gery word, en veroorsaak dit intense pyn. Dit kan veroorsaak dat die perd sy kop in die lug opgooi, en selfs op sy agterpote staan wanneer kontak met die teuels gemaak word. Gewoonlik moet hierdie tande getrek word om ongerief te verhoed en te voorkom dat slegte gewoontes tydens afrigting aangeleer word.
Al bogemelde probleme moet aangespreek word deur ‘n perde tandheelkundige of veearts om gewigsverlies, maagsere, koliek, swak veltoestand, beksere of absesse en weerstand teen die stang en trens, om ‘n paar te noem, te voorkom.
TOERUSTING EN PROSEDURE
‘n Goeie algemene reel is om jou perd elke ses maande deur ‘n perde tandheelkundige te laat ondersoek. Bekinspeksies neem tot twintig minute en is noodsaaklik om enige probleem te identifiseer voordat dit die perd begin beïnvloed.
Eerstens sal hy ‘n volledige ondersoek van die kop en omliggende strukture doen. Volgende sal ‘n volbek spekulum op die snytande geplaas word om die bek oop te hou. Die bek sal dan gespoel word om alle voer te verwyder en deur middel van ‘n koplamp sal ‘n vol bekinspeksie moontlik wees. Die spekulum word ook gebruik om die bek later oop te hou wanneer daar gevyl word.
Indien vyl (rasper) nodig is, sal dit deur handvyl of meganies aangedrewe toerusting gedoen word. Laasgemelde word vir meer gespesialiseerde aandag gebruik.
Nadat al die nodige werk voltooi is, word die bek weer met skoon water gespoel, en daarna word die bekbalans weer geïnspekteer.
Al bogemelde prosedures sal normaalweg veertig minute neem, afhangende van die hoeveelheid werk wat gedoen moet word, en hoe gewillig die perd is om stil te staan. Neem kennis dat sommige perde verdowing deur ‘n veearts sal benodig.
IDENTIFIKASIE VAN POTENSIËLE PROBLEME
Hier volg wenke vir perde eienaars om moontlike tandheelkundige probleme te identifiseer:
- Gewigsverlies
- Swak vel toestand
- Skielike slegte asem
- Voer val uit bek terwyl die perd vreet
- Die perd rol die gras of hooi op soos ‘n klein sigaarvormige bal terwyl hy vreet, en laat val dit dan op die grond.
- Groot hoeveelhede onverteerde voer in die mis, soos gras/hooi stingels.
- Abnormale kou; die perd mag ongemaklik vertoon of mag sy kop sywaarts draai terwyl hy mastikeer.
- Weiering van die stang of trens, of kopskud terwyl hy gery word.
- Hang aan die stang of trens
- Buitengewone op die agterpote staan, spring of weiering om oor pale te spring
- Abnormale swelling van die gesig of kaak
- Enige abnormale vloeïng uit die neus
- Bek bloei
- Onverklaarbare koliek
- Diarree
- Wurg