In STUD HORSE deel ek my grootste passie in my aardse bestaan: perdeteling.
STUD HORSE bestaan uit drie dele.
Deel 1 is gebaseer op my persoonlike menings, waarnemings en ondervinding. In hierdie afdeling poog ek om die verskillende stelsels wat ek toegepas het om verskillende stoeterye van verskillende rasse uit feitlik niks te begin en te ontwikkel – skape, beeste en my grootste passie: perde. In alle gevalle het ek altyd ‘n minimum spandeer en het ek altyd staatgemaak op oordeelkundige parings, eerder as om ‘n fortuin te spandeer op duur teelvee. Geen teler het nog ooit daarin geslaag om sukses in stoetteling te “koop” nie !!!
Deel 2 is gebaseer op navorsing, veral op die teelbeginsels van dalk die skerpste teler van alle tye: die Italiaanse Renperdteler, Frederico Tesio. Tesio het nooit ‘n fortuin spandeer op teelvee nie, en hy het ook nooit baie merries besit nie. Hy het ook sy merries uitgestuur vir dekkings en het nooit sy eie hings gehad nie, wyse man wat hy was. Maar as daar ooit ‘n man was wie verstaan het hoe ‘n stamboom werk, was dit Tesio.
Ek het weke spandeer om navorsing te doen op Tesio se beginsels. Ek was bemoedig toe ek uitvind dat, met die uitsondering van ‘n paar (baie waardevolle) beginsels, daar min verskil was tussen wat ek al die tyd gedoen het en die beginsels wat verantwoordelik was vir Tesio se sukses. Wat ek egter geleer het toe ek die navorsing gedoen het, is na my mening kennis en inligting waaroor baie, baie min stoettelers beskik. In STUD HORSE deel ek alles wat ek ontdek het gedurende weke se navorsing, met my lesers.
Deel 3 word nog ontwikkel en bestaan uit vrae wat ek aan sommige van Suid Afrika se voorste genetici gevra het. Die doel hiervan is om vas te stel of daar wetenskaplike ondersteuning is vir party van die gelowe onder perdemense.
Dit is my opregte wens dat hierdie boek jou mag help om die stoetery van jou drome te teel en te ontwikkel.
Groete,
Boeta Slabbert